23/06/2026
’n Brief aan my Pa
Liewe Pa
Soos die tyd verbygegaan het, het ek besef hoe God elke seisoen van ons lewens gebruik om ons te vorm. Ons verlede lê agter ons, maar die herinneringe bly kosbaar in my hart.
Ons verhouding as pa en dogter was nog altyd spesiaal, ’n band wat ek glo deur God self gevorm is. Deur die goeie en die moeilike tye was Pa altyd deel van my lewe, en vandag kies ek om dankbaar te wees vir elke mooi herinnering wat die Here vir ons gegee het.
Ek onthou die dae wat ons na die asgate toe gegaan het, dit was vir my ’n avontuur. In daardie eenvoudige oomblikke het ek vreugde gevind. Nou besef ek dit was nie net oor die goedjies wat ek gekry het nie, maar oor die tyd saam met Pa, ’n geskenk wat geen geld kan koop nie.
Ek glimlag nog wanneer ek d**k aan al die diertjies wat ek huistoe gebring het. Pa het my altyd gehelp, (al het ma dit nie goedgekeur nie) selfs wanneer dit nie maklik was nie. Daardie liefde en geduld het my geleer om om te gee, ’n eienskap wat ek vandag nog dra en wat my kinders ook geërf het.
Ek glo dit is deel van die liefde wat God in ons harte geplant het.
En dan was daar Optel, die foxterier hondjie wat my so getrou ingewag het. Sy lojaliteit herinner my vandag aan hoe getrou God ook teenoor ons is. Soos daar geskryf staan: “Die Here is getrou in al Sy weë en goedertieren in al Sy werke.” (Psalm 145:17).
Ek wens my kinders kon sulke eenvoudige, betekenisvolle tye beleef het, tye waar liefde nie in dinge gemeet word nie, maar in teenwoordigheid en saamwees. Dit was werklik geseënde oomblikke.
Ek onthou ook ons visvang-naweke en al die ander tye wat ons saam gedeel het. Dit was alles deel van die pad wat die Here vir ons uitgelê het.
Vandag wil ek vir Pa sê, terwyl ons nog die geleentheid het: ek is dankbaar dat ek Pa se dogter is. Ek sien Pa nie altyd soveel as wat ek sou wou nie, maar Pa bly in my hart en in my gebede. As ek kon, sou ek elke kans gebruik het om tyd saam met Pa deur te bring en ek weet my kinders sou dit ook geniet het.
Pa, dankie vir alles, vir die liefde, die leiding, en selfs die moeilike tye. Want deur dit alles het God my gevorm tot die mens wat ek vandag is.
Mag die Here Pa seën en bewaar, en mag Sy vrede altyd by Pa wees.
Met liefde,
Jou dogter.
Jackie Jacobs ©️